Toetse het die voorkoms van bek-en-klouseer in Noordwes bevestig.
Die rooivleisbedryf is ’n genadelose slag toegedien met die ontdekking
van bek-en-klouseer op twee private plase naby Potchefstroom. Wat dit
nog meer ontstellend maak, is dat dit, anders as ander gevalle die
afgelope drie jaar, ver buite die beheerde gebied is.
Dr. Shaun Morris van Octavoscene, ’n raadgewende veeartsenykundige
besigheid vir voerkrale, is een van die veeartse wat die voorkoms van
die siekte aan /Landbouweekblad/ bevestig het. Hy het gesê toetse op die
een plaas het dit bevestig en dat die uitslag van toetse op die ander
plaas vermoedelik Dinsdag, 22 Maart, bekend sal wees.
Hy self was besig met die opskerping van biosekerheidsmaatreëls by
voerkrale, vir wie hy as raadgewer dien, in die lig van die siekte se
voorkoms so ver buite die rooilyngebied.
Intussen het die regering nog nie die voorkoms van die siekte by die
internasionale dieregesondheidsorganisasie (OIE) aangemeld nie, soos hy
verplig is om te doen. Die verwagting is dat dit ná die langnaweek sal
gebeur.
Dr. Mike Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en -gesondheid van
die departement van landbou, grondhervorming en landelike
ontwikkeling, het wel in ’n verklaring eienaars van alle lewende hawe
gevra om enige moontlike tekens van die siekte onmiddellik by ’n
veearts, dieregesondheidstegnici of voorligtingbeamptes aan te meld.
Daar is geen motivering vir die verklaring of ’n verwysing na die
voorkoms van die siekte by Potchefstroom nie.
Hy waarsku egter veeartse en mense betrokke by dieregesondheid om bedag
te wees op die moontlikheid van bek-en-klouseer as diere siek raak. Hy
vra ook dat veilings tydelik gestaak word totdat ondersoeke afgehandel is.
Abattoirs moet diere deeglik inspekteer vir tekens van die siekte en
moet dit rapporteer as oormatige slym, beksere en diere wat moeilik
loop, bespeur word. Hulle moet ook aandring op inligting oor die
oorsprong van die diere en veeartsenysertifikate.
In die verklaring word produsente en hul bestuurders ook gevra om
beamptes te ondersteun wat moontlike aanmeldings van die siekte
ondersoek en aan veeartse verslag te doen as hulle moontlike gevalle
opmerk. Die direkteurs van veeartsenykundige dienste en hul personeel
word gevra om dringend op te tree as moontlike gevalle aangemeld word.
Suid-Afrika het in 2020 sy status as vry van bek-en-klouseer by die OIE
verloor. Dit was nadat die siekte in 2019 in Limpopo en daarna ook in
KwaZulu-Natal voorgekom het.
Dit is vir die rooivleisbedryf van die grootste belang om sy status as
vry van bek-en-klouseer te herwin. Die jongste uitbreking kan hierdie
vooruitsig weer ernstig knou. Uitvoer is intussen op ’n bilaterale
grondslag voortgesit, maar dit hou steeds risiko’s in vir plaaslike boere.
Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) glo die vleisbeesbedryf
het die potensiaal om ’n bykomende bydrae van R8,3 miljard oor die
volgende dekade tot landbouproduksie se bruto waarde te lewer. Die
meeste van die groei sal van uitvoer afhanklik wees en daarvoor is dit
van deurslaggewende belang dat bek-en-klouseer hokgeslaan moet word.
Die jongste uitbreking kan groeiplanne ernstig kniehalter, veral as die
verspreiding só ver buite die beheerde gebied en waar talle voerkrale
is, nie doeltreffend gekeer kan word nie.
~Landbou Weekblad